Saturday, 15 March 2014

Geskiedenis van die skool


Op 21 Januarie 1975 open Hoërskool Arboretum as ‘n dubbelmedium skool, in ‘n vooraf-vervaardigde asbesgebou op ‘n tydelike perseel. Volle personeelsterkte van 9 onderwysers, 1 sekretaresse en 76 leerders mnr. G.J. Delport het opgetree as eerste skoolhoof en moes die grondslag lê.

Intussen is daar begin met die bouwerk van ‘n permanente struktuur. In 1978 het  mnr. D.C.F. Heese die leisels as skoolhoof oorgeneem en die huidige skoolgebou word beset met 468 leerders. In 1980 word Hoërskool Richardsbaai amptelik geopen deur Sy Edele mnr. J.C. Botha, administrateur van Natal. Die skoolvlag word aan die skool oorhandig, die kloktoring onthul en die skoollied word vir die eerste keer by ‘n amptelike funksie gesing.

Daar word krieket, netbal, hokkie en rugby gespeel en swem en atletiek word beoefen. Die seuns en dogters drilpelotonne loop met al wat ‘n trofeë is weg en die trompoppies eindig tweede in ‘n Nasionale kompetisie. Die redenaar- en debatspanne floreer en wen talryke kompetisies.

1985 is ‘n waterskeidingsjaar. Die skool open as ‘n Afrikaans-medium skool met ‘n roltal van 732 leerders en die skoolhoof mnr. Heese word oorgeplaas na die Departement Onderwys en Kultuur. In 1986 word mnr. E. Gräter, Hoërskool Richardsbaai se derde hoof. Die skool word ‘n skool in Natal wat gesag afdwing, verskeie leerders verwerf Natal- en Suid-Afrikaanse kleure op uiteenlopende terreine. Kultuurorganisasies blom en revues en verhoogproduksies is luisterryk.

In 1996 word mnr. C.J. van der Westhuizen die skool se vierde hoof. Hy en sy personeel moes baie uitdagings trotseer wat die nuwe politieke bestel aan hul gestel het.  Dié uitdagings het gelei tot nog indrukwekkender prestasies op akademiese-, sport- en kultuurgebied.
Die skool het in 2010 'n totaal van 647 leerders, 35 akademiese- en 11 administratiewe personeellede.Hoërskool Richardsbaai het baie ouers en leerders wat werklik dankbaar en trots kan voel.

Die Here het hierdie skool geseën met wonderlike geleenthede en uitsonderlike prestasies is legio! Deur die jare is daar getoon dat die skool se rol, in die woorde van Ovidius “kosbaarder as goud en duursamer as koper” is.












Mnr. Delport, eerste hoof van die skool, kyk
hoe die bou van die skool vorder

No comments:

Post a Comment